Die situasie waarin Suid-Afrika inbeweeg oor die tekort aan mediese toerusting, is nou besig om ‘n kritieke stadium te bereik. Die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid het die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, reeds versoek om hierdie tekorte dringend te ondersoek.
Suid-Afrika beskik tans maar oor ‘n skamele 6000 ventilators waarvan slegs 2000 in die openbare gesondheidsektor beskikbaar is. Wat die tekort aan hoësorg-beddens betref, is daar tans in die openbare- en privaat-gesondheidsektor slegs ‘n totaal van 7195 beddens beskikbaar.
Die tekort aan ventilators kan toegeskryf word aan die feit dat dit tans ‘n wêreldwye probleem is aangesien gesondheidstelsels werk op ‘n tipiese behoefte met ‘n mate van bykomende kapasiteit. Die VF Plus spreek die hoop uit dat hierdie probleme nou hopelik die hoogste prioriteit van die nasionale departement van gesondheid is.
Die tekort aan gesigmaskers en ander beskermende drag vir dokters in hospitale en klinieke moet ook hoog op die prioriteitslys van die departement en die minister van gesondheid geplaas word. Indien dokters en ander medici en gesondheidswerkers nie beskerm word nie, staar ‘n groot krisis Suid-Afrika in die gesig en kan dit bykomende druk op die gesondheidstelsel plaas.
Die openbare gesondheidsektor het oor die jare onderbelê in die vervaardiging en aankoop van kritieke mediese toerusting. Die vraag na ventilators is reeds besig om die aanbod te oorskry en daarom sal daar op ‘n stadium gekyk moet word na metodes om voorkeur te gee aan pasiënte wat dit die meeste benodig.
Die kriteria vir die toelating tot intensiewe sorgeenhede sal baie deursigtig moet wees en sal in samewerking met die kritieke sorgvereniging van Suid-Afrika gedoen moet word en ‘n paneel van voorste kundiges sal hiervoor saamgestel moet word. So ‘n paneel sal moet bestaan uit ‘n spesialis in kritieke sorg, ‘n mediese etiekkundige en ‘n regsgeleerde met ‘n sterk mediese agtergrond.
Suid-Afrika se bevolking is tans sowat 60 miljoen mense en alle aanduidings is reeds daar dat meer as 60% van die bevolking die een of ander tyd met die koronavirus besmet gaan word; na raming sowat 36 miljoen mense.
Hiervan gaan sowat 4% ventilasie benodig, dus sowat 1.44 miljoen mense. Eweredig versprei oor ‘n jaar beteken dit sowat 120 000 mense per maand. Dit is dus duidelik die krisis waarin Suid-Afrika en die wêreld inbeweeg, raak kritiek. Berigte wat reeds verskyn het, toon aan dat ‘n land soos Amerika reeds ‘n tekort van 30 000 ventilators het.
Teen hierdie agtergrond sal daar dringend kommunikasiekanale wêreldwyd geskep moet word tussen regerings, medici, ingenieurs en andere om hierdie krisis hok te slaan.
Kontaknommer: 060 556 4347