Nadat die VF Plus Vrydag ingegryp het, het toestande verbeter vir die Suid-Afrikaners wat buite Lephalale (Ellisras) aanvanklik in haglike toestande geïsoleer is nadat hulle deur die Stockpoort-grenspos die land binnegekom het.
Die VF Plus het vanoggend bevestiging van mense in die kamp gekry dat daar water en kos afgelewer is. Daar is ook skoonmakers en ‘n kok wat kos voorberei. Een van die persone het ook bevestig dat die onderskeie maatskappye vir wie hulle werk, vir hulle ‘n voorraad eetgoed en sorgpakkies wat badkamerbenodigdhede insluit, gaan stuur.
‘n Ouer van een van die mense in die kamp het bevestig dat dit beter gaan en sy het haar dank teenoor die VF Plus uitgespreek.
Die party het met Limpopo se LUR vir gesondheid, dr. Pophi Ramathuba, oor die situasie geskakel. Mnr. Phillip van Staden, die VF Plus se parlementslid wat dien op die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid, is ook ingelig en hy het dit opgeneem met die nasionale minister en die direkteur-generaal vir gesondheid.
Die VF Plus is tevrede dat die situasie tans op die hoogste vlak aandag geniet. Die party sal nogtans die situasie monitor om seker te maak dat die mense met waardigheid behandel word.
Kontaknommer: 066 024 4623