Dit is met leedwese dat die VF Plus vandag verneem het van die afsterwe van generaal Constand Viljoen, eertydse eerste leier van die Vryheidsfront, soos die party destyds bekend gestaan het.
Die VF Plus wil sy innige meegevoel oordra aan genl. Viljoen se vrou, mevrou Risti Viljoen en aan sy kinders en geliefdes.
Genl. Viljoen was ‘n persoon wat ‘n groot en sterk merk gemaak het in die geskiedenis van Suid-Afrika. Hy sal altyd om twee redes onthou word: As ‘n uitmuntende soldaat en as ‘n politikus wat ‘n besondere rol gespeel het in die politieke oorgangstydperk vanaf 1994.
As soldaat is hy wyd gerespekteer onder sy soldate. Hy was ‘n militêre leier wat geglo het ‘n generaal lei van voor en nie van agter nie. Hy het soms kritiek gekry daarvoor, maar hy het gewis die respek en waardering van sy soldate op grondvlak gehad vir daardie benadering.
Sy prestasies as militaris is daar vir almal om van kennis te neem. Dit is welbekend dat hy ‘n uiters suksesvolle generaal was in die weermag.
As politikus het hy ‘n leidende rol gespeel vir die politieke oorgang en om te verseker dat daar stabiliteit was in Suid-Afrika gedurende daardie oorgangstydperk.
As politikus het hy baie probeer om sy militêre benadering toe te pas. Dit is positief en negatief ervaar. Positief omdat sy beplanning, sy strategie en uitvoering van politieke denke beslis baie waardevol was, maar soms het hy ook gesukkel weens sy rigiede militêre styl.
Op persoonlike vlak het ek soms vir hom gesê dat almal in die weermag onmiddellik moet reageer en op aandag spring wanneer ‘n generaal ‘n opdrag gee. In die politiek kan jy ongelukkig nie ‘n bevel gee nie, jy kan net ‘n versoek rig.
Die demokrasie as sodanig het daarom tot ‘n mate gebots met sy militêre opleiding aangesien die demokrasie nie werklik plek het vir rigiede opdragte nie.
Vir genl. Viljoen was Afrikaner-eenheid baie belangrik en in die politiek het hy sy aksies so probeer toepas om Afrikaner-eenheid te bevorder, al was dit nie altyd maklik nie. Daar was diegene, veral vanuit Afrikaner-geledere, wat hom oor sy benadering gekritiseer het, en dit was nie altyd geregverdig nie.
As gesinsmens was sy familie vir hom baie belangrik en hy het altyd soos ‘n ware heer opgetree teenoor alle mense met wie hy in aanraking was.
Die VF Plus wil hiermee sy dank uitspreek teenoor genl. Viljoen se familie oor wat hulle opgeoffer het vir die party. As eerste leier van die party word die opofferings wat hulle gemaak het, opreg waardeer.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216