Ingevolge die Covid 19-regulasies mag dienste nie opgeskort word in die geval van ‘n geskil tussen ‘n munisipaliteit, kragvoorsieners en inwoners tydens die inperkingsperiode nie.
In Bethal heers egter bykans ‘n totale gebrek aan diens. Rommel in die strate word nie gereeld gehaal nie en die inwoners van die dorp is keelvol weens die blatante vooroordeel wat die munisipaliteit ten opsigte van die prioritisering van dienste in die gebied toon.
Die regulasies bepaal dat vullis wat binne 'n periode van 14 dae nie verwyder is nie, onmiddellik deur die munisipaliteit verwyder moet word.
Boonop ervaar inwoners van Bethal ook die munisipaliteit se eie vorm van beurtkrag. Dié gebied se kraggebruik is glo te hoog en die munisipaliteit het beperkings op die kragvloei en -toevoer tussen woongebiede ingestel. Die kragonderbrekings wissel tussen twee en vyftien uur.
Die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) se skuld aan Eskom beloop glo R1,26 miljard en nie-betalers se verbruik neem glo toe aangesien hulle besef daar word nie teen hulle opgetree nie.
Die hoofwoordvoerder van die VF Plus oor samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Michal Groenewald (LP), het die aangeleentheid na adjunk-minister Parks Tau vir ondersoek verwys aangesien die departement 'n taakspan op die been gebring het om munisipale kwessies van hierdie aard tydens die inperkingssperiode te hanteer.
Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit gedurende die inperkingsperiode nie belangrike dienste lewer waarvoor inwoners betaal nie. Inwoners se welstand, veral siekes en bejaardes, kan ernstig hierdeur bedreig word.
Die VF Plus eis dat die munisipaliteit dié kragonderbrekings onmiddellik stopsit en eerder ondersoek sal instel oor waarom die vraag na krag in Bethal oorskry word.
Kontaknommer: 0846529164