Polisiebeamptes by die Akasia-polisiekantoor moet in haglike omstandighede werk en misdaad probeer bekamp wat so hoog is dat internasionale maatskappye wat nywerhede in die omgewing bedryf, daaroor kla.
Die VF Plus ondersoek die aangeleentheid in ‘n poging om ‘n geskikte perseel te vind, of om sommige van die 191 plaaslike polisielede na ‘n ander perseel te verskuif.
Die polisiegebou wat aan die Tshwane-metroraad behoort, se huurkontrak met die departement van openbare werke het reeds verval en verskeie tenderprosesse om dit te hernu oor die afgelope vyf jaar het misluk.
Intussen het die gebou stelselmatig agteruitgegaan sonder enige onderhoud. Verskeie waterlekkasies het ontstaan, toilette is buite werking, meubels is gehawend en ‘n paar polisiebeamptes moet noodgedwonge in ‘n klein stoorkamer werk met een drukker en rekenaar wat almal bedien.
Die speurafdeling het geen werkplek nie en slegs ses van die 24 sigbare polisiëringsvoertuie is in ‘n werkende toestand.
In ‘n verslag wat die Tshwane-metro se departement van gesondheid opgestel het ná ‘n besoek aan die polisiekantoor, is bevind dat die kantoor regtens gesluit moet word aangesien dit nie voldoen aan gesondheidsregulasies nie.
Die polisiekantoor bedien ook die Rosslyn-nywerheidsgebied waar verskeie nasionale en internasionale maatskappye groot vervaardigingsaanlegte besit.
Van die nywerhede het reeds aangedui dat hulle dit oorweeg om uit die gebied te onttrek indien die situasie nie spoedig aandag geniet nie.
In misdaadstatistiek van Oktober tot Desember 2021 word aangedui dat dié kantoor op ses na die hoogste misdaadsyfer in die provinsie het. Nasionaal is hulle 18de op die lys.
Die VF Plus se burgemeesterskomiteelede in die Tshwane-metroraad vir gesondheid en gemeenskapsveiligheid, Rina Max en Grandi Theunissen, is saam met voorsitters van komitees besig om ‘n omvattende plan saam te stel om ‘n oplossing vir die ontoereikende polisiekantoor te vind.
Die party sal nie sy plig versaak om alles in sy vermoë te doen om die gemeenskap van Akasia te dien deur te help om ‘n geskikte gebou te vind en die polisiebeamptes van die nodige toerusting te voorsien nie.
Die Gautengse polisie is ook in gesprek met die nasionale polisie om met die aangeleentheid te help.


