(Begrotingsdebat in parlement: Wetenskap en innovasie)
Wetenskap en innovasie is een van die departemente wat hoofsaaklik in die toekoms belê.
Daarom behoort befondsing van hierdie departement hoog op die regering se voorkeurlys te wees. Uit 'n totale nie-rente besteding van R1,6 triljoen, spreek die sowat R9 miljard wat aan wetenskap en innovasie toegewys is, nie van hoë voorkeur nie.
Hierdie departement behoort erkenning vir die goeie werk wat dit met 'n betreklik klein begroting verrig, te ontvang.
Die National Research Foundation (NRF) is vir die befondsing van nagraadse studente verantwoordelik en finansier etlike groot tegnologieprojekte soos die SKA-radioteleskoop.
Verder doen die Wetenskaplike Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) grondliggende wetenskaplike werk.
Die Technology Innovation Agency (TIA) evalueer en befonds sakeplanne wat op tegnologiese innovasie gegrond is, terwyl die Suid-Afrikaanse Ruimteagentskap (SANSA) die land op die voorpunt van dié ontluikende tegnologie hou.
Die Acadamy of Science in South Africa (ASSAF) dra herhaaldelik by deur politieke debatte op grond van wetenskaplike inligting te besleg – debatte oor die uitwerking van seismiese verkenning in oseane is die mees onlangse voorbeeld.
Daar is wel ruimte vir verbetering. Kapa Biosystems is 'n besigheid wat deur die TIA op die been gebring is, maar die staat se aandeel is ver onder die ekonomiese waarde daarvan verkoop. Pogings om die verlies te herwin gaan voort, maar sukses kan nie gewaarborg word nie. Verder bly die heining wat die departement om die 131 000 hektaar terrein van die SKA radioteleskoop moet oprig, steeds net 'n belofte.
Die grootste probleem binne die departement is dat kontinuïteit, wat in 'n kennisstelsel onontbeerlik is, op die altaar van transformasie geoffer word. In bykans elke entiteit of afdeling van die departement is ongevulde poste 'n probleem. Die belangrikste oorsaak is dat kandidate met die nodige kennis en ervaring vir beter geleenthede buite die departement gewerf word. Nogtans word op transformasiekwotas, wat 'n kunsmatige skaarste aan vaardighede skep, aangedring.
Hulpbronne wat aan die departement van wetenskap en innovasie toegewys word, dui daarop dat die regering te min wil belê; maar dan van wetenskaplikes verwag om wondere te verrig.