(Begrotingsdebat in parlement: Justisie en grondwetlike ontwikkeling)
Die verminderde salarisbegroting van die departement van justisie is ’n refleksie op die regering se vermoë om die Grondwet te handhaaf en die publiek teen misdaad te beskerm.
Sonder behoorlike befondsing sal die regstelsel benadeel word aangesien kundigheid nodig is om ’n behoorlike diens oor ’n wye spektrum te lewer.
Die VF Plus verwelkom die feit dat meer fondse toegewys is aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) moet ook gehelp word.
Die kommissie na staatskaping moet toegelaat word om sy werk te voltooi in die stryd teen korrupsie en genoeg hulpbronne moet beskikbaar gestel word vir vervolgings wat uit die kommissie se werk mag voortspruit.
Die bykomende begrotingspakket van R426 miljoen oor die medium termyn aan die kommissie word daarom verwelkom.
Die afname aan skuldigbevindings van staatsamptenare wat by misdaad betrokke was oor die afgelope jare, is kommerwekkend.
Vir die 2020/21-finansiële jaar het die aantal skuldigbevindings met meer as die helfte verminder teenoor 2016/17. Dit is nie aanduidend van ’n besondere fokus op korrupsie nie.
Die NVG is die hardste getref tydens die Zuma-bewind en die gevolge kan steeds gesien word in die groot aantal vakante poste in die NVG, veral wat ervare aanklaers aanbetref. Probleme met die moreel van personeel is ook aanduidend hiervan.
Dit wil voorkom asof die NVG hom oor alle misdaadspektrums toespits op sake wat makliker is om te vervolg om sy misleidend hoë persentasie skuldigbevindings beter te laat lyk.
Die feit dat staatsdepartemente die SOE meer as R650 miljoen skuld, kan ernstige gevolge inhou.
Sonder ’n behoorlik befondsde SOE, ’n meer effektiewe NVG en die afhandeling van die staatskapingskommissie se werk, sal die regering nie daarin slaag om die Grondwet en die oppergesag van die reg te handhaaf en te beskerm nie.