Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Kaping van noodpersoneel in Belfast kommerwekkend veral omdat daar kritieke tekort aan ambulanse en hulpbronne in Mpumalanga is

'n Voorval Sondagaand in Belfast/Emakhazeni, waartydens ambulansnoodpersoneel in 'n lokval gelei en beroof is, is kommerwekkend veral aangesien daar reeds 'n kritieke tekort aan ambulanse en opgeleide noodpersoneel in Mpumalanga is.

Die ambulanspersoneel het op 'n kraamnoodoproep by 'n afgeleë huis in die Emakhazeni-plaaslike munisipaliteit (Emakhazeni/Belfast, Dullstroom, Entokozweni/Machadodorp, Emgwenya/Waterval Boven) gereageer waarna die personeel oorval en beroof is.

Die ambulans is van sy enjin en ander onderdele gestroop.

Die VF Plus het dringende vrae gerig aan die provinsiale LUR vir gesondheid, me. Sasekani Manzini, om duidelikheid rondom die veiligheid van noodpersoneel te kry.

Daar is reeds 'n ernstige tekort aan opgeleide noodpersoneel in die provinsie en 74% van die huidige paramedici het slegs 'n basiese noodhulpkursus van vier weke onder die knie.

Die Mpumalanga Kollege vir Noodsorg het ook geen begroting of perseel nie. Die provinsie kan nie bekostig om nog paramedici weens misdaad ook te verloor nie.

Die VF Plus het reeds etlike maande gelede sy kommer uitgespreek oor die ernstige tekort aan ambulanse in die provinsie.

In 2020 was daar 'n daling van 81% in beskikbare ambulanse; van 178 tot 33.

Verlede jaar het die departement 67 nuwes aangekoop, maar die provinsie sit steeds met slegs 55 werkbare ambulanse.

Dit is nie naastenby die hoeveelheid van 450 wat volgens die departement vir die provinsie benodig word nie. Mense sterf terwyl hulle op ambulanse wag.

Dit is onaanvaarbaar aangesien 92% van Mpumalanga se inwoners van staatsambulanse afhanklik is. Slegs 8% van inwoners in die provinsie het mediese fondse.

Die VF Plus eis dat me. Manzini dringend optree om die tekort aan ambulanse en paramedici in die provinsie aan te spreek en ook om die veiligheid van noodpersoneel te verseker.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.