(Parlementêre begrotingsdebat: Samewerkende regering en tradisionele sake)
Die huidige verval van munisipaliteite sal slegs gestuit word as die ANC-regering ophou om populistiese, ideologies gedrewe slagspreuk-politiek in plaaslike regerings te bedryf.
Basiese ekonomiese beginsels dikteer dat munisipaliteite behoort te fokus op die skepping van sakevriendelike omgewings om beleggings van spesifiek klein- tot mediumgrootte ondernemings (KMO’s) te lok.
Dit sluit die implementering van gunstige belastings en heffings en die instandhouding en herstel van infrastruktuur in.
Dit is die enigste wyse om werkskepping en ekonomiese groei in plaaslike ekonomieë te stimuleer. Die ANC in plaaslike regerings se gebruik om telkens bloot belastings en heffings te verhoog om finansiële tekorte aan te vul, smoor plaaslike ondernemings en lei tot disinvestering.
Dit skep slegs ‘n afwaartse spiraal van ‘n krimpende belastingbasis, werkloosheid, armoede en die algemene verval van dorpe en stede.
Voeg hierby swak finansiële bestuur, wetteloosheid, kaderontplooiing, korrupsie en swak leierskap wat die meeste ANC-beheerde munisipaliteite kenmerk, en dit word duidelik dat die ANC regering net sy eie belange dien.
Dit kan ook gesien word in die feit dat die meeste staatsdepartemente miljoene rande agterstallig is met die betaling van hul munisipale diensterekeninge.
Die verduideliking van adjunk-president David Mabuza op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus in Desember verlede jaar dat hierdie situasie ontstaan weens die lewering van foutiewe rekeninge, behoort ook as ‘n ernstige waarskuwing aan munisipaliteite te dien.
Alle verbruikers van munisipale dienste behoort gelyk behandel te word.
Verskillende reëls kan nie vir verskillende klante geld nie. Met dié standpunt van die adjunk-president moet die regering nie verbaas wees as gemeenskappe die staatsdepartemente se voorbeeld volg nie.
Munisipaliteite moet dus seker maak dat korrekte rekeninge aan inwoners gelewer word.
Indien gemeenskappe die genoemde voorbeeld van die adjunk-president volg om betalings aan munisipaliteite te weerhou totdat korrekte rekeninge gelewer word, sal dit ‘n geweldige negatiewe impak op die meeste ANC-beheerde munisipaliteite se kontantvloei hê.
Die regering behoort ‘n voorbeeld te stel deur seker te maak dat nasionale departemente hul munisipale rekeninge stiptelik binne dertig dae betaal om plaaslike munisipaliteite en ekonomieë te ondersteun.


