Die VF Plus het nie die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit (Kroonstad, Steynsrus, Viljoenskroon, Vierfontein) se konsepbegroting vir die 2025/26-finansiële jaar gesteun nie.
Die voorgestelde tariefverhogings gaan die reeds oorbelaste inwoners van Moqhaka onder verdere finansiële druk plaas en kan wanbetaling laat toeneem.
Die voorgestelde tariefverhogings is soos volg:
• Eiendomsbelasting: 4.4%
• Krag: 12.74%
• Water: 4.4%
• Sanitasie: 4.4%
• Vullisverwydering: 4.4%
Inwoners van Moqhaka gaan reeds gebuk onder swak dienslewering met paaie vol slaggate en voortslepende water- en rioolprobleme.
Die VF Plus het in November 2024 ‘n klag by die Groen Skerpioene ingedien oor die Kroonstad-rioolaanleg wat steeds buite werking is en die besoedeling van die Vals- en Vaalrivier.
Daarbenewens is wanbetaling van diensverskaffers aan die orde van die dag. ‘n Voorbeeld is die diensverskaffer van die rekenaarprogram vir die uitstuur van munisipale rekeninge aan inwoners. Munisipale rekeninge word óf te laat óf soms glad nie gestuur nie omdat die program nie gebruik kan word tot die diensverskaffer betaal is nie.
Die munisipaliteit het ook geen afbetalingsplan of ooreenkoms in plek om sy Eskom-rekening van R1.6 miljard te vereffen nie. Die meeste huishoudings en ondernemings maak van voorafbetaalde krag gebruik, maar die munisipaliteit betaal net ʼn gedeelte van die geld aan Eskom oor.
Die VF Plus is nie gekant teen billike tariefverhogings nie, maar dan moet dit weerspieël word in die dienslewering wat inwoners ontvang. In Moqhaka is dit nie die geval nie.


