Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Voorstel om byna R500 miljoen af te skryf skandvlek op Ekurhuleni se finansiële bestuur

Die VF Plus veroordeel die Ekurhuleni-metro se voorstel om R491 150 257.69 se onreёlmatige en vrugtelose besteding af te skryf en beskou dit as ʼn skandvlek op die metro se finansiële bestuur.

Al mag wetgewing in sekere gevalle sodanige afskrywings toelaat, is die gebrek aan aanspreeklikheid kommerwekkend.

Hierdie besteding strek vanaf 2011 tot 2016 en verskeie departemente word geraak.

Die bedrag is veel meer as net ’n syfer op papier. Dit verteenwoordig bykans R500 miljoen wat gebruik kon word om die stad se ernstige slaggatkrisis op te los of wat nou weer geleen word in die 2025/2026-finansiële begroting. Hierdie finansiële wanbestuur is nie net histories nie, dit het werklike en voortdurende gevolge vir inwoners.

Die meerderheid van hierdie vermorsing spruit uit die teenstrydige en onbehoorlike toepassing van die voorsieningskettingbestuursbeleid wat ernstige sistemiese tekortkominge uitwys.

Dit is onaanvaarbaar dat die enigste reaksie is om die betrokke partye bloot te verbied om weer met die metro sake te doen. Dit voorkom nie dieselfde oortredings elders in die openbare sektor nie.

Die VF Plus dring daarop aan dat:

• Strafregtelike vervolging geskied waar wangedrag duidelik is.
• ʼn Swartlys op nasionale vlak toegepas word, nie net binne Ekurhuleni nie.
• Werknemers wat steeds in diens is, onderwerp word aan dissiplinêre stappe en opleiding in voorsieningskettingbestuursbeleid.

Dit is skokkend dat dit in sommige gevalle dertien jaar geneem het om tot hierdie punt te kom. Die prosesse om finansiële wangedrag te identifiseer en daarop te reageer, moet dringend hervorm word om vinniger en doeltreffender uitkomste te lewer.

Belastingbetalers verdien die versekering dat hul geld beskerm word en dat diegene wat dit vermors, verantwoordelik gehou word.

Die VF Plus sal aanhou veg vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en skoon regering in Ekurhuleni.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.