Die VF Plus in Gauteng het vanoggend by die Suid-Afrikaanse byebedryfsorganisasie benadruk dat omvattende stappe geneem moet word om bye te beskerm.
Die party was een van die gassprekers by BEECON se 2025-konferensie in Centurion, Pretoria.
Konferensiegangers is daarop gewys dat sowat een derde van alle voedsel wat geëet word, direk staatmaak op die bestuiwing van bye. Bye as bestuiwers is fundamenteel vir die voortplanting van blomplante deur die oordrag van stuifmeel te vergemaklik, wat lei tot bestuiwing en saadproduksie.
Die internasionale wêreldwye ekonomiese waarde van hierdie bestuiwingsdienste word jaarliks op honderde miljarde dollars geraam.
Bye staar egter beduidende bedreigings in die gesig.
Die departement van landbou in Gauteng het ‘n deurslaggewende rol om te speel in die beskerming van bye as bestuiwers, aangesien sy pogings breë beleide daar kan stel, meer befondsing kan verskaf en aksies oor verskillende sektore heen kan koördineer.
Die VF Plus se voorsitter van die portefeuljekomitee vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewing, mnr. Jaco Mulder, sal met die LUR vir landbou in Gauteng, Vuyiswa Ramakgopa, en amptenare in die departement in gesprek tree om te verseker dat omvattende stappe geneem word om bye te beskerm.


