Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus gekant teen AbaQulusi-munisipaliteit se plan om R1,3 miljoen aan beplanning van geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) te bestee

Die AbaQulusi-plaaslike munisipaliteit in KwaZulu-Natal (Louwsburg, Vryheid) se mees onlangse kosteraamwerk toon ‘n bedrag van R1,3 miljoen vir die beplanningsproses van die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP). Die VF Plus staan hierdie buitensporige koste ten sterkste tee.

Die koste vir die proses, wat aangedui word in die 2026/27-begrotingsplan, word daar beplan om R50 000 vir reklame, R1 miljoen vir openbare raadpleging en R250 000 vir strategiese beplanningsessies, wat die bestuurskomitee en uitvoerende komitee insluit, bestee gaan word.

Alhoewel openbare deelname en strategiese belyning noodsaaklike komponente van goeie regering is, wek die omvang van hierdie beraamde koste ernstige vrae oor waarde vir geld en fiskale verantwoordbaarheid, veral in ’n munisipaliteit wat sukkel om dienste van ‘n aanvaarbare standaard te lewer.

Deursigtigheid met die besteding van R1 miljoen vir openbare vergaderings is noodsaaklik, aangesien die bedrag buitensporig hoog voorkom. Die koste van lokale, logistiek, verversings en eksterne fasiliteringsfooie behoort uiteengesit te word.

Die GOP-dokument van die munisipaliteit, dui aan dat die GOP-proses intern gefasiliteer sal word. Indien wel, is dit nodig om te verduidelik waarom R250 000 daarvoor nodig is aangesien diegene wat dit gaan bywoon reeds deur die raad besoldig word.

Die gemeenskappe van AbaQulusi het met swak infrastruktuur, watertekorte en onvoldoende sanitasie te kampe. Dit maak dit moeilik om sulke administratiewe uitgawes te regverdig.

Die VF Plus dring by die raad aan op ‘n volledige en deursigtige uiteensetting van alle GOP-verwante uitgawes. Die noodsaak en omvang van elke begrotingsitem moet teen diensleweringsbehoeftes opgeweeg word.

Goeie regering vereis dat elke rand wat bestee word, meetbare waarde vir die gemeenskap moet lewer. Inwoners van AbaQulusi het die reg om uitgawes te bevraagteken wat buitensporig of onvanpas voorkom.

Indien die kostes spandeer was om die publiek se volwaardige betrokkenheid by die proses te waarborg kon daar sekerlik met ander oë na die kostes gekyk word maar dit is onaanvaarbaar dat hierdie groot bedrae geld spandeer word aan interne prosesse.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.