Die VF Plus gaan die Gautengse wetgewer se veelparty-vrouekomitee nader om misdrywe teen vroue en kinders te ondersoek en om in samewerking met ander organisasies, druk toe te pas vir swaarder strawwe en geen parool vir oortreders nie.
Verskeie rolspelers in die Suid-Afrikaanse vervolgings- en regsprosesse moet by die saak betrek word. Die doel is om op voorkoming en vroegtydige aksie te fokus.
Dit volg na die jongste voorval waar ‘n 42-jarige man van Diepkloof, Soweto in hegtenis geneem is as ‘n verdagte vir die verkragting van sy drie dogtertjies van onderskeidelik, 6-, 8 -en 10-jaar oud.
Suid-Afrika het die hoogste verkragtingsyfer in die wêreld en onder die ANC-regering styg die syfers jaarliks. Leiers spreek hul skok uit en maak beloftes en ondernemings wat geen verskil aan die lewe van weerlose vroue en kinders in die land maak nie.
In baie gevalle word vroue en kinders verkrag en vermoor deur misdadigers wat op parool vrygelaat is.
Baie voorvalle van verkragting en mishandeling word nie aangemeld nie omdat die regsproses vir klaers geweldig traumaties is en hofsake soms vir jare sloer.
Daar moet 'n ferm boodskap aan gemeenskappe uitgestuur word dat misdaad, veral seks- en geweldsmisdade teen vroue en kinders, nie in die land geduld sal word nie.
Vroue en kinders in Suid-Afrika kan nie langer soos tweederangse burgers behandel word nie. Veral vroue speel ‘n kardinale maatskaplike en sosio-ekonomiese rol in die land en moet met respek behandel word.
Kontaknommer: 071 604 9498