Die VF Plus versoek die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, om die magte tot sy beskikking ingevolge die huidige nasionale ramptoestand te gebruik om in oorleg met kredietverskaffers soos banke, ‘n sogenaamde terugbetalingsvakansie van vier tot ses maande aan persone en veral sake-ondernemings toe te ken om hulle van finansiële ondergang te red.
In die lig van die heersende toestande wat veroorsaak is deur die korona-pandemie en waar veral kleiner sake-ondernemings beswaarlik enige inkomste kan genereer, is so ‘n reëling van die grootste belang om te verhinder dat Suid-Afrika se reeds brose ekonomie ernstig geknou word.
Mense en ondernemings sal in die afsienbare toekoms bloot nie in staat wees om hul skuldverpligtinge na te kom nie en dit kan lei tot groot afleggings wat die ernstige werkloosheidsprobleem in die land verder kan vergroot.
Kontaknommer: 082 466 3786