Die VF Plus neem kennis van die stelling van die minister van vervoer, Dipuo Peters, dat die e-tolstelsel wettig is, maar verskil drasties van haar aangesien die meriete van die hofsake wat Outa en TAG hieroor aanhangig gemaak het, nog nie deur ‘n hof getoets is nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Adv. Alberts sê die sake is telkens om tegniese punte uit die hof gegooi.
Adv. Alberts sê die VF Plus vind dit ook vreemd dat die minister besluit het om deel te neem aan die evalueringspaneel se werksaamhede terwyl sy die samestelling van die paneel gekritiseer het en op rekord is dat sy gesê het dit is nie ‘n legitieme liggaam nie.
“Die feit dat die nasionale ANC-regering steeds selfs in weerwil van sy eie provinsiale regering in Gauteng nie kan aanvaar dat die stelsel deur die bank deur Gautengers verwerp word nie, bewys die gebrek aan die politieke, menseregtelike en demokratiese insig van die nasionale regering.
“Die minister se voorlegging dat daar nie geld is om die opgradering van die paaie op ‘n ander manier te befonds nie, is minagtend teenoor die gewone belastingbetaler en padgebruiker aangesien daar duidelik genoeg geld is vir korrupsie en wanadministrasie wat jaarliks miljarde rande verlore laat raak.
“TAG is steeds van plan om uiteindelik die wettigheid van die stelsel in die hof te toets sodra die geleentheid hom voordoen,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403