'n Brand by die hoof-kragsubstasie in Balfour moes vanoggend deur die gemeenskap self, met die hulp van VF Plus-lede, geblus word aangesien die plaaslike brandweer nie ‘n voertuig beskikbaar het nie.
Die VF Plus was eerste op die toneel en het die Dipaleseng-brandweer ontbied, maar daar was geen voertuig beskikbaar om uit te stuur na die toneel nie.
Brandweerpersoneel wat aan diens was, was nie ook bereid om sonder voertuie te kom help nie.
Lede van die gemeenskap moes toe noodgedwonge self inspring om te keer dat die substasie heeltemal vernietig word in die brand.
Balfour is sonder enige krag gelaat en dis onseker wanneer dit herstel sal word.
Die brandweervoertuie wat die drie dorpe Balfour, Greylingstad en Grootvlei in die Dipelaseng-plaaslike munisipaliteit moet bedien, is al vir sowat drie jaar nie in ‘n werkende toestand nie.
Die VF Plus het voorheen die brandweerkwessie onder die munisipaliteit se aandag gebring en het gewaarsku dat die wanfunksionele brandweerdiens onaanvaarbaar is en tot onnodige lewens- en eiendomsverliesse kan lei.
Die VF Plus het ook ‘n skrywe gerig aan Mpumalanga se waarnemende LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Busisiwe Shiba, om die aangeleentheid te ondersoek en toe te sien dat die brandweerstasie funksioneer om inwoners te beskerm.
Die VF Plus sal nie sy druk op die munisipaliteit verslap om sy grondwetlike plig na te kom deur ‘n behoorlike diens aan inwoners te verskaf nie.
Navrae: 083 770 2970 / 066 376 3329