fbpx
Vryheidsfront Plus

Hoërskool Driehoek-tragedie: Drie jaar later heers daar steeds onsekerheid oor openbare skole se strukturele veiligheid

Die VF Plus is steeds bekommerd oor die stand van openbare skole in Gauteng se strukturele veiligheid drie jaar ná die tragedie by die Hoërskool Driehoek.

Die tragedie het op 1 Februarie 2019 plaasgevind toe 'n brug by die skool op leerders geval het. Direk na die gebeurtenis het die departement van onderwys asook die departement van infrastruktuur en ontwikkeling geskarrel om aandag te gee aan skole met probleme soos in die geval van Roodepoort Hoërskool.

Sedertdien blyk dit egter dat die oorsig oor skole se strukturele veiligheid dalk weereens verval het na die ANC-normaal van gebrekkige inspeksies.

Die VF Plus het verlede week vrae hieroor aan die Gautengse departement van onderwys gestel tydens 'n vergadering van die wetgewerkomitee oor onderwys.

Die departement was onseker en sal terugvoering gee in die verband.

Die VF Plus beskou die situasie as kommerwekkend en het daarom verdere skriftelike vrae in dié verband aan die departement van onderwys gerig om vas te stel of inspeksies gereeld gedoen word.

Inspeksies is veronderstel om in terme van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid 85 van 1993 elke ses maande in die eerste twee jaar van enige infrastruktuur se lewensiklus plaas te vind en daarna jaarliks.

Die Hoërskool Driehoek-tragedie het duidelik uitgewys dat dit nie gebeur nie. Volgens 'n parlementêre antwoord van die minister van basiese onderwys op 'n vraag van die VF Plus (gedateer 15/02/2019) het die laaste inspeksie by die skool plaasgevind op 8 April 2014.

Die enigste verdere inspeksie wat plaasgevind het, was in Julie 2018 om vas te stel wat die grootte van die skool is in verhouding tot die aantal leerders.

Dit word gewoonlik gedoen om die politieke ideologie van die departement te dryf om Afrikaanse skole wat nie vol is nie, te dwing om anderstalige leerders in te neem wat uiteindelike Afrikaanse skole transformeer tot Engelse skole. Dit is baie duidelik dat die departement ideologiese mikpunte baie belangriker ag as skoolveiligheid.

Die VF Plus sal sodra die departement van onderwys antwoorde verskaf rakende die infrastruktuur-inspeksies by openbare skole, dit openbaar maak vir reaksie en kommentaar.

Die tragedie van die Hoërskool Driehoek mag nie weer herhaal word nie.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.