Die ANC-regering se skenking van R50 miljoen aan Kuba om dié land glo te help met ‘’voedselsekerheid’’, is skandalig en grens aan misdadigheid teenoor die mense van Suid-Afrika, veral teenoor hulpbehoewendes sonder kos of heenkome.
Die adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Alvin Botes, het die skenking bekend gemaak ten tyde van ’n sitting van die betrokke parlementêre portefeuljekomitee.
Volgens Trading Economics was die werkloosheidsyfer in Kuba teen die einde van 2021 3,5% terwyl Suid-Afrika steier onder sy hoogste werkloosheidsyfer ooit van bykans 35% met ’n uitgebreide werkloosheidsyfer van 46,6%.
Dit beteken miljoene mense in Suid-Afrika leef in totale armoede.
Talle skole in Suid-Afrika het nog puttoilette, die polisie se begroting word weens geldnood gesny terwyl misdaad bloei, dokters by die Charlotte Maxeke-Akademiese Hospitaal is hierdie jaar nog nie ten volle betaal nie.
Dit is enkele voorbeelde van ’n land sonder geld wat weens totale wanbestuur ekonomies in die dryfsand wegsak.
Dat Suid-Afrika hom ontferm oor ’n ander land terwyl dit so sleg gaan, gaan daarom die verstand te bowe. Net so verstommend is die rede wat aangevoer word vir die skenking.
Die ANC is besig om homself verder te vervreem van die mense van Suid-Afrika – in hierdie geval weens ideologiese bande met ’n baie twyfelagtige bondgenoot.