Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis regruk van Noord-Kaapse munisipaliteite; ondersoek Premier se bewering dat damme se grond sonder vergoeding onteien is

Die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, het gister in sy repliek ter afsluiting van die provinsiale rede gefokus op onteiening as beleidstuk en het ook die provinsie se sukses op die gebied van menslike ontwikkeling verdedig.

Opposisiepartye het die premier in die debat oor sy provinsiale rede gekasty oor swak dienslewering, veral met betrekking tot onderwys en gesondheid.

Die VF Plus het die meeste klem op die verval in munisipaliteite in dié provinsie gelê. Nege van die provinsie se 31 munisipaliteite is tans amptelik in ’n finansiële krisis, hoofsaaklik weens wanbestuur, korrupsie en politieke aanstellings.

Die oplossing hiervoor is dat slegs bekwame mense in munisipale sleutelposte behou word, dat ’n omkeerstrategie uitgewerk en gemoniteer word en dat die provinsie genoeg geld bewillig om infrastruktuur in stand te hou.

In antwoord op die VF Plus se stelling dat onteiening sonder vergoeding ’n beleidstuk is wat beleggers afskrik, het die premier aangevoer dat die NP-regering die plase waarop die Gariep- en Vanderkloofdam, sowel as Orania oorspronklik gebou is, sonder vergoeding bekom het.

Hy het voorts gesê die vorige regering se departement van waterwese het Orania agtergelaat voordat die huidige eienaars dit in 1991 teen sowat R1,3 miljoen gekoop het. Volgens hom is die huidige geldwaarde daarvan sowat R8 miljoen, bereken teen ’n gemiddelde inflasiekoers van 6%.

Die VF Plus betwis dr. Saul se bewering dat die Oranjerivier-stelsel op grond staan wat die staat sonder vergoeding verkry het. Die party is besig met navorsing oor die besonderhede daarvan en sal sy bevinding met die premier deel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.