Die Matlosana-munisipale raad het op aandrang van die VF Plus ‘n plan met ‘n uiteensetting van voorgenome aankope in die 2025/2026 finansiële jaar na die departement vir voorraadbestuur terugverwys vir hersiening.
Die party het uitgewys dat oorbesteding op aankope reeds ‘n jare lange, ernstige probleem in Matlosana is. Dit het byvoorbeeld onlangs aan die lig gekom dat padtekens vir meer as nege keer die markwaarde aangekoop is.
Die ANC-hoofsweep in die raad, me. Rosy Thabanchu, se kantoor en raadsaal is onlangs teen ‘n koste van R 248 000 gemeubileer. Dít vir ‘n standaard raadstafel met agt stoele asook ‘n lessenaar met drie stoele.
Uit die plan van die voorraadbestuur-departement is dit duidelik dat beplan word om hierdie skynbare onreëlmatige besteding voort te sit. Die aankoop van ‘n tuinskêr teen R3 000 word onder meer beplan.
‘n Verdere aanduiding dat die voorgenome bestedingsplan onreëlmatig is, is die feit dat daar duidelik geen prioritisering in die voorgenome aankope is nie.
Veertien bestedingsitems het byvoorbeeld presies dieselfde begrotingstoekenning ontvang. Voorsiening word gemaak vir van die aankoop van elektriese kabels tot olie en watermeters, alles teen ‘n koste van R56 523 469, 93 per item.
Matlosana is lank reeds berug vir voorvalle van korrupsie, wanbestuur en ‘n uiters onverskillige houding jeens belastingbetalers se geld en belange.
Die VF Plus sal voortstry teen sulke blatante vermorsing en volgehoue druk op Matlosana plaas om sy skaars hulpbronne tot voordeel van die inwoners aan te wend.
Dit is ‘n skande dat dienslewering en finansiële bestuur in hierdie eens trotse munisipaliteit totaal verval het onder opeenvolgende ANC-administrasies tot nadeel van Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein se inwoners.


