Inwoners van Vanderbijlpark moes vanoggend teleurgesteld en onverrigtersake wegdraai van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se kliëntedienssentrum in Paul Krugerstraat in Vanderbijlpark.
Dié sentrum is vanoggend gesluit weens Emfuleni se versuim om die maandelikse huur van R6,4 miljoen te betaal. Die munisipaliteit huur die gebou met meer as 100 kantore sedert 2018.
Die eienaar het drie keer verlede jaar die gebou se deure gesluit en twee keer vanjaar weens wanbetaling.
Die gebou, wat as die OK-gebou bekend staan, huisves die finansiële departement waar inwoners onder meer rekeningfoute kan aanmeld en diensterekeninge betaal.
Die VF Plus was reeds in gesprek met die burgemeester, mnr. Sipho Radebe, oor die probleem, maar hy kon geen oplossing bied nie.
Intussen bestaan die gevaar dat inwoners se dienste onnodig of onregverdig afgesny kan word.
Die sluiting van die sentrum volg kort op ʼn verslag van die Gautengse wetgewerkomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) wat aanbeveel dat Emfuleni onder volledige artikel 139 administrasie geplaas word met finansiële beheer wat oorgedra word aan die provinsiale of nasionale tesourie.
Die VF Plus sal egter aanhou druk plaas op die burgemeester en munisipale bestuurder, April Ntuli, om die agterstallige huur te vereffen.
Inwoners is nou genoeg gestraf vir die sondes van die ANC-beheerde Emfuleni.


