Die VF Plus eis dringende ingryping in die groeiende waterkrisis in die Tshwane-metro wat die volhoubare lewering van water bedreig.
Die Tshwane-metro moet Randwater betaal vir elke druppel water wat gebruik word en die gelisensieerde waterkwota word gereeld oorskry.
Die VF Plus is bekommerd daaroor dat bykans ʼn derde van die metro se waterverbruik verlore gaan weens grootskaalse onwettige verbindings, lekkasies en waterdiefstal.
Een van die grootste oorsake is die onwettige aansluiting op waterlyne, insluitend direkte verbindings na reservoirs. Mense herlei onder meer onwettig water uit die Ga-Rankuwa- en Mabopane-reservoirs.
Dit plaas onvolhoubare druk op die waterstelsel en het ‘n negatiewe uitwerking op watervoorsiening aan wetsgehoorsame inwoners in omliggende gebiede.
Alhoewel die Tshwane-metropolisie (TMPD) die onwettige verbindings ontkoppel, word dit bloot net weer gekoppel en word betalende gemeenskappe sonder water gelaat.
Die situasie het só onbeheerbaar geraak dat onwettige grondbesettings selfs binne die reservoir-area plaasvind, soos by Mabopane wat ernstige gesondheids- en infrastruktuurrisiko’s inhou.
Die VF Plus doen ‘n beroep om dringende en daadwerklike optrede:
- Die TMPD moet gereeld patrolleer en reservoirs beskerm, veral hoërisiko-gebiede soos Mabopane en Ga-Rankuwa.
- Behoorlike heinings en sekuriteit moet by belangrike waterinfrastruktuur geïnstalleer word.
- Die metro moet voortgaan met gereelde inspeksies om te verseker dat wettige inwoners toegang tot hul regmatige watervoorsiening behou.
Indien hierdie situasie nie dringend beheer word nie, kan dit lei tot ‘n volledige ineenstorting van Tshwane se watervoorsiening.


