Die toenemende gebrek aan fiskale dissipline, die ineenstorting van kritieke dienslewering en die verswakking van bestuursvermoë in die Tshwane-metro, kan nie langer voortduur nie.
Die agteruitgang van die metro word duidelik weerspieël in verslae wat Donderdag aan die raad voorgelê is.
Die metro se huidige befondsingmodel is op sand gebou. Dit faal in die drie basiese beginsels van volhoubare munisipale bestuur:
- Die maksimum invordering van skuld word nie bereik nie weens die groeiende kultuur van wanbetaling en onvoldoende kredietbeheermaatreëls.
- Vermorsing van water en elektrisiteit word nie beperk nie. Tegniese en nie-tegniese verliese van elektrisiteit oorskry 24% met waterverliese wat tans 32% beloop. Dié verliese verteenwoordig honderde miljoene rand wat net verdwyn.
- Die herstel van infrastruktuur en dienslewering bestaan net op papier met talle projekte wat min vordering toon, óf heeltemal tot stilstand gekom het.
Die VF Plus is moeg vir ’n stadsbestuur wat net ‘kennis neem’ in plaas daarvan om aanspreeklikheid te aanvaar. ‘Kennis neem’ herstel nie gebarste pype nie, bring nie ligte aan nie en skep nie werk nie. Dit is ’n verskoning vir nutteloosheid.
Hoewel die metro spog met skuldverligtingskemas en amnestieprogramme, toon die werklike deelname daaraan hoe min vertroue inwoners daarin het.
Slegs 102 huishoudings en drie ondernemings het op die skema ingeteken. Hierdie getalle is skokkend laag en wys dat die ware omvang van die metro se skuldkrisis nie met politieke retoriek bygelê kan word nie.
Die VF Plus dring aan op:
- Onmiddellike optrede teen wanprestasie, eerder as meer verslae en komitees.
- Werklike aanspreeklikheid vir verlore inkomste deur elektrisiteit- en waterdiefstal, administratiewe foute en metervervalsing.
- ’n Bestuurskultuur wat prestasie bo verskonings plaas en inwoners as kliënte hanteer, nie as laste nie.
Pretoria is die hoofstad van die Suid-Afrika. Dit is nie ’n eksperimentele speelgrond vir politieke koalisies wat nie tot dienslewering verbind is nie.
Die VF Plus sal aanhou om die stem van gemeenskappe te wees en eis dat elke sent wat deur belastingbetalers betaal word, moet werk tot voordeel van die inwoners.