Die VF Plus in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit dring in ‘n skrywe aan die speaker van die munisipale raad, Kgosiemang Mogoemang, daarop aan dat die posisie van die burgemeester, Kgotso Khumalo, dringend amptelik uitgeklaar word.
Hierdie skrywe volg op verskeie mediaberigte wat meld dat die Khumalo as burgemeester bedank het. Sy beweerde bedanking is nog nie amptelik deur die munisipaliteit bevestig nie. Khumalo, en twee munisipale amptenare, het reeds in 2020 in die hof verskyn op aanklagte van diefstal en bedrog by die munisipaliteit.
Om sake verder te vertroebel, doen ‘n brief die rondte waarin Khumalo ‘n lid van die burgemeesterskomitee, Leon Mkhabela, skynbaar aanstel as waarnemende burgemeester. So ‘n aanstelling sou hoogs onreëlmatig en ongeldig wees omdat die burgemeester wat volgens berigte reeds verlede week bedank het, nie die bevoegdheid het om so ‘n aanstelling te doen nie.
Die VF Plus wys in die skrywe daarop dat ‘n dringende raadsvergadering deur die speaker belê moet word indien Khumalo wel bedank het. Die JB Marks-raad sal dan in terme van die gepaste wetgewing en prosedures ‘n nuwe burgemeester aanwys.
Die VF Plus meld ook dat ‘n dringende ingryping in die munisipaliteit deur die provinsiale regering versoek sal word indien die speaker nie spoedig amptelike antwoorde verskaf nie.
Hierdie chaotiese stand van sake in JB Marks is ‘n verdere simptoom van die wanbestuur en korrupsie wat mettertyd in dié ANC-beheerde munisipaliteit posgevat het.
Kiesers in Potchefstroom en Ventersdorp wat deur JB Marks bedien word, moet in die komende verkiesing met hul stemme saamstaan en opstaan om ‘n einde aan ANC-wanbestuur en korrupsie in JB Marks te bring.
Navrae: 082 415 8628