Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se openbare deelnameproses het jammerlik gefaal met die voorhou van die munisipaliteit se onvolledige geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP).
Die weglating van die voorgestelde 2021/22-begroting wat aan die einde van die maand voor die raad vir goedkeuring moet dien, is ‘n uitvloeisel van die wanadministrasie waarin die munisipaliteit jare reeds verkeer.
Inligting wat wel deur die munisipaliteit voorgelê is, is onrealisties en voldoen nie aan wetlike vereistes nie.
Die VF Plus is gekant teen die aanbeveling van ‘n 30%-verhoging op die salarisbegroting terwyl 57% van die poste vakant is.
Die munisipaliteit se personeelkorps bestaan uit 2 443 personeellede (wat 90 raadslede insluit) terwyl sowat 80% van die diensleweringprosesse deur kontrakteurs behartig word. Die getal personeellede oorskry dié van metrorade in die provinsie.
Die onvermoë van die munisipaliteit om sy grootmaat-waterverbruik te beheer, is die gevolg van 40% se waterverliese gedurende die afgelope finansiële jaar. Inwoners sal moet boet vir die reuse verlies.
Inwoners van Emfuleni word weereens deur ‘n munisipaliteit benadeel wat gebuk gaan onder die agteruitgaan van dienslewering en die algemene verval van infrastruktuur. Vervalle paaie, onverwerkte riool wat in paaie afvloei en riviere besoedel, krag- en wateronderbrekings en gebrekkige vullisverwydering is aan die orde van die dag.
Die VF Plus kan nie die begroting goedkeur nie en inwoners word aangemoedig om saam met die VF Plus hierteen op te staan en ‘n sterk boodskap aan die ANC te stuur dat die verval van die munisipaliteit nie langer geduld sal word nie.
Navrae: 076 616 2124