'n Besoek Woensdag aan die munisipale gebou in Hartswater het aan die lig gebring dat die Phokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstad) besig is om 'n aanvullende waardasierol te finaliseer. 'n Kennisgewing met hierdie strekking is in die gebou aangebring sonder dat eens die raadslede in kennis gestel is.
Die kennisgewing voldoen boonop nie aan wetlike vereistes nie. Nêrens word aangedui waar die waardasierol in harde kopie ter insae beskikbaar is nie, slegs dat dit op die munisipale webwerf beskikbaar is. Die VF Plus kon die webwerf nie opspoor nie.
Artikel 49(1)(c) van die Munisipale Eiendomsbelastingwet bepaal dat kennisgewings van hierdie aard op 'n voorgeskrewe wyse op elke eienaar beteken moet word. Luidens die kennisgewing kan inwoners van 10 Mei tot 7 Junie beswaar teen die nuwe waardasies indien.
Intussen sal die VF Plus die munisipaliteit daarvan verwittig dat die kennisgewing nie aan wetlike vereistes voldoen nie en dat die proses van voor af begin moet word.
Die party sal nogtans poog om die waardasierol in elektroniese formaat te kry. Die VF Plus sal dit dan aan inwoners beskikbaar stel.
Inwoners word aangemoedig om wel die nuwe eiendomswaardasies op te spoor en beswaar aan te teken indien nodig, al is die proses tot dusver onvoldoende.
Aanduidings is dat die Phokwane-munisipaliteit hom weereens nie aan wetgewing steur nie en probeer om die nuwe waardasierol ongesiens in werking te stel.
Indien inwoners saam met die VF Plus opstaan, saamstaan en sterkstaan, kan dit voorkom word.
Navrae: 072 938 8588