(Begrotingsposdebat in parlement: Samewerkende regering en tradisionele sake)
Die Grondwet het ‘n duidelik resep en riglyne vir plaaslike regering wat berus op ‘n balans tussen gemeenskapsbehoeftes en beskikbare hulpbronne. Dit bepaal die kernfunksies van ‘n munisipaliteit, die aanwending van hulpbronne, omgewingsbewaring en verantwoordelikhede teenoor inwoners.
Die realiteit is egter dat plaaslike regering totaal misluk. Munisipaliteite is bankrot, skuld krediteure miljarde rande, basiese dienste soos watervoorsiening en vullisverwydering vind nie plaas nie en munisipaliteite self besoedel skaars waterbronne.
Die rede hiervoor is nie ‘n tekort aan fondse of apartheid nie. Dit is wanbestuur en korrupsie soos by die rioolaanleg van 8 megaliter in die Naledi-munisipaliteit. Die aanleg kos reeds R120 miljoen, maar is steeds nie voltooi nie en meer geld word nou benodig. Intussen is werk aan die aanleg agtien maande gelede reeds gestaak – alles die gevolg van opgeblase kostes en swak beplanning.
Munisipaliteite moet groter klem lê op die instandhouding van bestaande infrastruktuur en nie op nuwe projekte wat ‘n kortpad na korrupsie is nie.
Tog is daar ‘n groot tekort aan roetine-onderhoud en infrastruktuur word nie voldoende beskerm teen vandalisme, diefstal en vernietiging nie. In Matlosana is die koperkabels by alle sportstadions gesteel en geboue word onbruikbaar beskadig weens brandstigting.
Gemeenskapsale word geplunder en stuk-stuk weggedra. Waterpype en kleppe word gesteel wat tot lekkasies en vermorsing lei. Bendes intimideer en vermoor selfs munisipale werkers – in baie gevalle weens ANC-faksiegevegte ten koste van betalende inwoners wat geen dienste ontvang nie. Dit vir die alleenmag om voor by die trog van korrupsie te kan staan.
Plaaslike regering is in krisisbeheer, al is dit veel goedkoper om byvoorbeeld ‘n waterpyp in stand te hou as om te herstel nadat dit gebreek het. Wette en regulasies word argeloos verontagsaam en skep ‘n regering sonder verantwoording.
Dit terwyl daar wel goeie wetgewing en regulasies is wat munisipale finansiële- en algemene bestuur bepaal. Selfs munisipaliteite se eie bywette beteken al hoe minder.
Meriete en die afskaffing van regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) sal die probleem grootliks regstel omdat dit ‘n teenvoeter vir kaderontplooiing en korrupsie sal wees. Ook met die gebruik van kontrakteurs. Dienslewering is tans net ‘n politieke truuk.
Die meeste munisipaliteite stel ‘n verhoging van sowat 20% in kragtariewe voor. Verbruikers sal dit bloot nie meer kan betaal nie en weens die groeiende werkloosheid sal munisipaliteite se inkomste toenemend krimp.
Die logiese remedie hiervoor is om eerder groei aan te moedig deur toegewings in belasting en dienstegeld. Dit is wel moontlik indien korrupsie uitgeroei kan word.
Nogtans sal die beste oplossing nie werk solank ‘n korrupsie-deurspekte ANC aan bewind is nie. Die enigste ware oplossing vir die mislukking van munisipaliteite kom op 27 Oktober vanjaar. Kiesers moet dan opstaan, saamstaan en sterk staan om van die onbevoegde ANC-regering ontslae te raak.