Die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley en omgewing) poog tans om die munisipale begroting deur die raad te voer sonder dat die wetlik vereiste openbare deelnameproses gevolg is.
Die hoof-finansiële beampte is verantwoordelik vir die begroting sowel as vir skakeling met die gemeenskap.
Die munisipaliteit beweer dat mnr. Kenneth Samolapo, wat in die pos waarneem, geskeduleerde toeligtingsessies op 'n plaaslike radiostasie sou aanbied. Dit is egter nooit met die radiostasie bevestig nie en het vir twee weke agtereenvolgens nie plaasgevind nie.
Samolapo het hom ook mondelings teenoor die VF Plus tot 'n Zoom-vergadering met die party se ondersteunersgemeenskap verbind. Dit het eweneens nie plaasgevind nie.
Die begroting word tans aan raadslede voorgehou asof 'n deurdagte proses gevolg is om die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en voortvloeiende 2021/22-munisipale begroting met die gemeenskap te bespreek.
Daarom word druk op raadslede geplaas om met die volgende vergadering die begroting te aanvaar.
Raadslede behoort nie die voorgenome begroting te aanvaar as die wetlik vereiste prosesse nie gevolg is nie en lede van die gemeenskap behoort op hul regte aan te dring en te verseker dat hul behoeftes ook in die begroting in ag geneem word. Die VF Plus hoop dat raadslede hul gewete sal volg deur die begroting nie te aanvaar nie.
Eindelik is dit inwoners wie se regte benadeel word. Gemeenskappe moet die kuns aanleer om sterker op hul regte aan te dring, sonder om ontwrigtend of vernietigend op te tree. 'n Uitstekende geleentheid om dit te doen, is om op 27 Oktober in groot getalle vir die VF Plus te stem.
Navrae: 083 454 9410