Die VF Plus het vandag in die Gautengse wetgewer tydens die debat oor die premier se provinsiale rede, geëis dat die LUR van onderwys, Panyaza Lesufi onmiddellik afgedank moet word en dat daar teen die LUR van plaaslike regering, Paul Mashatile opgetree word.
Dit is betreurenswaardig dat die premier nie die LUR van onderwys voor stok gekry het oor sy aanvalle op Afrikaanse skole in die provinsie nie. Lesufi beweeg figuurlik van skool tot skool en steek hulle aan die brand as hy nie sy sin kry nie. Lesufi moet deur die premier afgedank word omrede hy slegs 'n politieke agenda dryf; nie in belang van die provinsie en die bevordering van onderwys optree nie. Afrikaanssprekendes het volgens artikel 29(2) van die grondwet 'n reg om in Afrikaans onderrig te word. Die LUR tree tans ongrondwetlik op, stook rassehaat en faal in sy taak om kwaliteit onderrig vir almal in Gauteng te verseker.
Die LUR van plaaslike regering en behuising, Paul Mashatile, moet verantwoordbaar gehou word vir die munisipaliteite in die provinsie wat in duie stort. Voorbeelde hiervan is die haglike finansiële toestand van Emfuleni plaaslike munisipaliteit waar bitter min dienslewering plaasvind. Die premier toon nie die politieke wil om hierdie krisis aan te spreek nie. Hoe kan die premier toelaat dat die LUR niks doen aan die feit dat Mogale City (Krugersdorp) besig is om van sy bates ontslae te raak om sy skuld te delg nie? Mashatile oortree ook die etiese kode vir uitvoerende lede deur nie sy pligte na te kom nie.
Die premier sal Mashatile onmiddellik moet verwyder as LUR en hom nie in sy pos hou tot einde Maart nie. Hy bring tans meer tyd in Lethuli-huis deur en versaak sy verpligtinge teen oor die provinsie. Sedert sy aanstelling het hy nog nie een keer ‘n portefeuljekomiteevergadering oor sy departement bygewoon nie.
Kontakbesonderhede: 0840154722