fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dat Fikile Mbalula sy beloftes nakom en volhoubare stappe neem om Noordwes se padinfrastruktuur van totale verval te red

Die VF Plus het vandag in ‘n ledeverklaring in die parlement geëis dat minister Fikile Mbalula sy onlangse beloftes oor die herstel van die N12-roete in Noordwes nakom.

Die minister het tydens ‘n besoek aan Wolmaransstad in Maart vanjaar onderneem om onmiddellik stappe te neem om die N12 wat op plekke bykans onbegaanbaar geraak het, te laat herstel.

Hy het verder onderneem om binne ‘n maand weer die dorp te besoek om die vordering van die herstel te monitor. Tydens ‘n onlangse besoek van die VF Plus aan die dorp was geen verbetering te sien nie.

Die VF Plus het intussen ook verneem dat die regering slegs R45 miljoen rand aan Sanral beskikbaar gestel het vir die herstel van die N12.

Hierdie bedrag is totaal ontoereikend. Hierdie belangrike ekonomiese aar het oor tyd in ANC-beheerde dorpe soos Potchefstroom, Klerksdorp en Wolmaransstad tot só ‘n mate verval dat omvangryke herstelwerk dringend gedoen sal moet word.

Intussen het Noordwes se premier, Bushy Maape, ook aan die VF Plus bevestig dat daar ‘n enorme agterstand in die instandhouding van Noordwes se padnetwerk is.

Die provinsiale regering bestee die afgelope drie jaar gemiddeld R1 miljard per jaar aan die herstel en onderhoud van hierdie kritieke infrastruktuur.

Dít terwyl daar ten minste R7,6 miljard per jaar bestee behoort te word om enige noemenswaardige verbetering in die stand van die paaie in die provinsie te weeg te bring.

Die huidige begroting vir die herstel en instandhouding verteenwoordig maar 0,9% per jaar van die waarde van die padnetwerk in Noordwes. Die norm vir sulke begrotings is 8% van die vervangingswaarde van infrastruktuur-bates.

Daar is duidelik dringend grootskaalse ingryping regoor Noordwes nodig om die padnetwerk van algehele verval te red.

Die VF Plus het die minister versoek om ‘n behoorlike ontleding van die stand van die padnetwerk in Noordwes te doen en volhoubare oplossings te implementeer.

Hierdie dekade-lange verval onder opeenvolgende ANC-regerings moet nou gestuit word.

Daar kan nie toegelaat word dat ‘n provinsie se ekonomiese oorlewing bedreig word deur ‘n onbevoegde ANC-regering wat ideologie en kaderontplooiing voor die belange van Noordwes se inwoners stel nie.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.