Die reeds sukkelende toerisme-industrie in Sabie, wat stadig op die been kom na die Covid-19-pandemie, is 'n verdere hou toegedien met die uitgebreide betogings wat sedert Maandag sporadies in die gebied plaasvind.
Die betogings, met gepaardgaande padversperrings, kom voor by verskeie toegangspaaie van die dorp in die Thaba Chweu-plaaslike munisipaliteit (Graskop, Lydenburg, Mashishing, Pilgrim's Rest, Sabie). Die gemeenskap betoog oor swak munisipale dienslewering.
Hierdie betogings, beskadiging van infrastruktuur en die versperring van toegangspunte tot die gewilde toeristedorp, beïnvloed die plaaslike ekonomie uiters negatief. Klein- en groot sakeondernemings sukkel om in sulke omstandighede te funksioneer en dit skrik toeriste af.
Dit gaan reeds moeilik met sakeondernemings na die Covid-19-pandemie en almal in die dorp voel steeds die gevolge daarvan. Hierdie betogings kan nie bekostig word nie.
Die munisipaliteit wend geen daadwerklike poging aan om 'n omgewing te skep wat gunstig is vir werkskepping en vryehandel nie.
Die VF Plus dring daarop aan dat inwoners van Sabie se regte op vryheid van beweging en handel beskerm word om 'n voortbestaan vir almal te verseker.
Naas die publiek se persoonlike veiligheid, moet ekonomiese veiligheid ook 'n prioriteit wees. 'n Sterker polisieteenwoordigheid is nodig om die plofbare situasie in bedwang te bring.