Die VF Plus verwelkom die onlangse inhegtenisneming van twee wildbewaarders van die Nasionale Krugerwildtuin wat glo taktiese inligting aan renosterstropers verskaf het.
Die twee mans, David Chikwa Maluleke en Solly Ubisi, het dié week voor die Bosbokrand-landdroshof verskyn.
Dit is verblydend dat die erns van renosterstropery besef word weens onder meer die diere se ekologiese impak op hul omgewing wat ander diere soos olifante en buffels direk raak.
Die inhegtenisnemings blyk die oortjies van die seekoei te wees. Die Valke in Mpumalanga se ernstige korrupsie-ondersoekspan – bygestaan deur die Skukuza-veediefstal- en bedreigde spesie-eenheid, is tans besig met 'n uitgebreide ondersoek genaam operasie Blood Orange, en verdere inhegtenisnemings word verwag.
Die bewaarders word aangekla van korrupsie, geldwassery en bedrog wat met wildhandel verband.
Aansienlike bedrae geld is na bewering oor 'n tydperk van 'n paar jaar in die rekeninge van die beskuldigdes en hul familielede inbetaal.
Die VF Plus sal wil sien dat die swaarste strawwe moontlik vir hierdie soort misdaad opgelê word, veral vir mense in 'n vertrouensposisie wat stroping moes voorkom.
Die VF Plus sal die regsproses en verloop van die ondersoek noukeurig volg.