‘n Voorstel van die VF Plus aan die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se finansiële komitee vir die skep van ‘n aparte bankrekening waarin eienaars wat hul eiendomme verkoop se verpligte dienstegeld-deposito inbetaal word, kan help dat eiendomtransaksies vinniger afgehandel word.
Eienaars wat eiendomme verkoop, word deur wetgewing verplig om ‘n sekere bedrag geld in die munisipaliteit se rekening in te betaal om so voorsorg te tref vir die verhaling van alle agterstallige dienstegeld.
Terugbetalings deur die munisipaliteit kan meer as ‘n jaar sloer omdat elke keer wanneer die munisipaliteit se bankrekening deur ‘n hofbevel gevries word, al die geld deur die aansoeker uit die rekening onttrek word.
Wanneer die rekening weer aktief is, neem dit maande voordat daar genoeg geld is om betalings te maak.
Die VF Plus se voorstel is vir die skep van ‘n aparte rekening waar slegs deposito-inbetalings gemaak word om te verseker dat terugbetalings vinniger geskied.
Die VF Plus is aktief besig om alles in sy vermoë te doen om die Emfuleni-munisipaliteit onder die ANC-regering te help om alternatiewe planne te beraam om die munisipaliteit uit sy rommelstatus te lig.
Dit is veral belangrik om seker te maak dat belastingbetalers se belange eerste gestel word.