Die VF Plus is bekommerd oor die ernstige mislukkings en wanbestuur van die Timberlands-projek in die Tshwane-metro.
Die Timberlands-projek is ‘n sosiale behuisingsinisiatief van die metro en het ten doel om 607 behuisingseenhede te voorsien vir inwoners wat nie vir gesubsidieerde behuising kwalifiseer nie, maar ook nie genoeg verdien om huislenings te bekom nie.
Hierdie projek is deel van ‘n groter poging om die behuisingsbehoeftes in Tshwane aan te spreek.
Die Timberlands-projek is in Maart 2021 geloods, maar tot dusver het wanbestuur, vertragings en ‘n skokkende gebrek aan toesig die projek in die wiele gery.
Meer as R44 miljoen is reeds bestee aan regskoste wat verband hou met die beëindiging van die kontrak met Vharanani Properties, maar die amptenare wat sleutelrolle in die besluitneming gespeel het, versuim om die regte maatreëls te volg sodat die projek voltooi word.
Dit is ‘n ooglopende voorbeeld van onbevoegdheid, nalatigheid en verkwisting van belastingbetalers se geld.
Ten spyte van hierdie beduidende probleme, word daar geen verantwoordbaarheid van die projekleiers geëis nie. Dit is onaanvaarbaar.
Die VF Plus eis onmiddellike aksie oor die volgende:
- ‘n Deursigtige ondersoek na die wanbestuur en vertragings van die Timberlands-projek.
- Stappe moet geneem word teen die amptenare en projekleiers wat verantwoordelik is vir die mislukkings.
- Streng maatreëls moet ingestel word oor toesig en bestuur oor toekomstige projekte.
Die metro moet ‘n voorbeeld stel in bestuur en aan sy inwoners bewys dat onbevoegdheid, nalatigheid of finansiële wanbestuur nie geduld sal word nie.
Die VF Plus plaas klem daarop dat openbare vertroue herbou moet word en verantwoordbaarheid afgedwing word om te verseker dat openbare hulpbronne eerlik en korrek gebruik word.


