Die VF Plus eis dringende antwoorde oor bewerings van onreëlmatighede rakende die aankoop van twee 12 500ℓ septiese-suigtenkwaens (honey suckers) deur die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom).
Luidens mediaberigte is die twee tenkwaens teen ’n koste van R20 miljoen aangekoop, terwyl die gekwoteerde waarde R5.4 miljoen elk beloop. Dit is ernstige bewerings waarop die munisipaliteit dringend sal moet antwoord.
Dit is nie die eerste keer dat Matjhabeng in die kollig is oor twyfelagtige voertuig-aankope nie. In 2021 is daar ook berig oor voertuie wat onder die dekmantel van nuwe aankope aangeskaf is, maar later geblyk het tweedehandse en onbruikbare voertuie te wees wat vandag in werkswinkels staan en stof vergaar.
Die VF Plus het versoek dat die munisipaliteit se munisipale openbare rekeningekomitee (MPAC) hierdie aangeleentheid dringend ondersoek, insluitend die aankoopprys, tenderproses, verskaffer, voertuigspesifikasies en of die voertuie wel operasioneel is.
Matjhabeng is ongelukkig bekend daarvoor om gereeld in die nuus te wees vir korrupsie en wanbestuur. Hierdie munisipaliteit is nie net besig om dienslewering te vernietig nie, maar ook om die basiese waardigheid van inwoners ernstig te ondermyn.
Die VF Plus sal nie toelaat dat hierdie bewerings onder die mat ingevee word nie. Inwoners van Matjhabeng verdien werkende dienste en nie nog vrae oor waar hul geld heen is nie.


