Die VF Plus het tydens Donderdag se raadsvergadering nie die voorstel gesteun om ’n onderburgemeesterspos vir Johannesburg te skep nie.
Hierdie besluit het niks met die werklike uitdagings van die stad te doen nie, maar alles met die ANC se interne magspeletjies.
Johannesburg staar ernstige diensleweringsprobleme, verswakkende infrastruktuur en ’n voortgesette finansiële krisis in die gesig. Om in hierdie omstandighede ’n nuwe politieke pos te skep, plaas net verdere druk op reeds beperkte finansies.
Die pos gaan die stad ’n ekstra R1,25 miljoen per jaar kos – geld wat eenvoudig nie beskikbaar is nie en wat eerder aan basiese dienslewering bestee moet word.
Die voorgestelde onderburgemeesterspos is niks anders nie as ’n politieke meganisme om die strydbyle binne die ANC te begrawe, veral ná die oorgang van Dada Morero na Loyiso Masuku as ANC-streeksvoorsitter vir Johannesburg.
Hoewel dit dalk interne stabiliteit vir die ANC bring, mag dit nie ten koste van goeie regering en die beste belange van inwoners geskied nie.
Die VF Plus sal voortgaan om besluite teen te staan wat politieke belange bo die langtermyn-volhoubaarheid en funksionaliteit van Johannesburg stel.
Inwoners moet die ANC vir hierdie misbruik van hul swaar verdiende belastinggeld met die komende plaaslike regeringsverkiesing straf en nie beloon nie.
Die VF Plus bly verbind tot verantwoordelike regering en die beskerming van inwoners teen onnodige politieke skaakspel.


