Die VF Plus eis die kop van die minister van openbare ondernemings, Malusi Gigaba, nadat onreëlmatighede in die toeken van Transnet-tenders nou weer aan die lig gekom het, sê adv. Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor openbare ondernemings.
Adv. Alberts sê Gigaba is duidelik nie in staat om sy ministerie te bestuur nie. Hy is ook verantwoordelik vir die SAL se treurmares en die afskeep van duisende Transnet-pensioenarisse wat met ‘n 2%-verhoging per jaar moet oorleef terwyl die bestuur in openbare ondernemings soos konings op belastinggeld leef.
Luidens mediaberigte die afgelope naweek was een van die plaaslike bemagtigingsvennote in Transnet se reuse-tender vir lokomotiewe nie eens daarvan bewus dat sy maatskappy ’n deel van die R50 miljard-tender kry nie en hy het glo in ‘n koerant daarvan gelees.
’n Direkteur van ’n ander bemagtigingsmaatskappy was ’n senior bestuurder by Transnet toe Transnet besluit het wie kontrakte gaan kry.
Daarbenewens word ’n filiaal van ‘n Chinese vervaardiger wat ‘n groot aandeel in die tender bekom het, glo sedert 2012 deur die Namibiese owerhede ondersoek weens moontlike korrupsie in sy transaksies met dié land.
Dié tender is een van die grootste enkele staatsuitgawes nog en vier lokomotiefvervaardigers en hul bemagtigingsvennote, het kontrakte van R50 miljard gekry om 1 064 diesel- en elektriese lokomotiewe aan Transnet te lewer.
Volgens adv. Alberts gaan die VF Plus die Openbare Beskermer (OB) nader om moontlike wanadministrasie en bedrog te ondersoek wat voortspruit uit die toeken van hierdie tenders.
Hy sê dit is ‘n skande dat belastinggeld so vermors word terwyl Transnet se eie pensioenarisse ‘n sukkelbestaan moet voer.
Die VF Plus sal vra dat bedrog ondersoek word oor:
Die rol van Zahra Pilane, een van die direkteure van Azon Rail, 'n plaaslike vennoot van China North Rail (CNR) Rolling Stock SA. Pilane was volgens berigte tot Desember 2012 ’n senior Transnet-bestuurder terwyl die tenders vir die lokomotiewe reeds in Julie 2012 aangekondig is. Dit beteken Pilane het vyf maande by Transnet gewerk nadat die tenderproses amptelik in Julie 2012 begin het. Sy en haar vennoot, Babalwa Dludlu, wat ook by Transnet werksaam was tot en met Junie 2011, het Azon Rail eers in Maart 2013 gestig, ‘n blote maand voor die sluiting van die tenderaansoeke in April 2013. Die omstandighede en hulle nabyheid aan die transaksies lyk baie verdag.
Die VF Plus sal vra dat frontskepping of ‘fronting’ in terme van SEB-wetgewing ondersoek word oor:
Die toeken van ‘n tender aan Jabatha Stationery, een van die spoorwegmaatskappy Bombardier Transportation SA (BTSA) se bemagtigingsvennote. Jabatha se direkteur, James Sibeko, was glo onbewus daarvan dat sy maatskappy deel was van die tenderproses en dit mag dalk wees dat hy misbruik is as 'n front vir swart bemagtiging. BTSA se kontrak om 240 elektriese lokomotiewe te lewer, is R10,4 miljard werd.
Adv. Alberts sê die VF Plus sal voortgaan om druk op Transnet te plaas om spaarsamig op te tree en te sorg dat sy pensioenarisse versorg word met voldoende verhogings wat ten minste tred hou met inflasie, asook jaarlikse bonusse.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403