Die VF Plus verwelkom die aanvang van die forensiese ondersoek in die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit (Thabazimbi, Northam, Rooiberg, Leeupoort, Kromdraai), maar beklemtoon dat ingryping in gevalle van beweerde korrupsie sonder onnodige vertraging moet plaasvind.
Die ondersoek volg ná die VF Plus se volgehoue druk in die provinsiale wetgewer en kom meer as ’n jaar ná die ontbinding van die munisipaliteit in Oktober 2024. Die party veroordeel hierdie vertraging.
Hierdie ondersoek is ‘n verpligte vereiste wat aan Limpopo se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mnr. Basikopo Makamu en deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), gestel is, as deel van die proses wat gelei het tot die ontbinding van dié munisipaliteit.
Op 2 Desember het die munisipale bestuurder, mnr. Gopolang Letsoalo, ’n vergadering met die forensiese ondersoekspan gelei. Verteenwoordigers van Cogta en die provinsiale tesourie was ook teenwoordig.
Die forensiese ondersoek in Thabazimbi moet vasstel of daar korrupsie, wanbestuur en finansiële wangedrag plaasgevind het, insluitend die rol van amptenare en politici.
Die VF Plus beklemtoon dat goeie regering en deursigtigheid die hoekstene van ’n funksionerende munisipaliteit is. Amptenare en politici wat by wanbestuur of finansiële wangedrag betrokke is, moet sonder uitsondering tot verantwoording geroep word.
Die resultate van die ondersoek moet onmiddellik aan die publiek bekend gemaak word om volkome deursigtigheid te verseker. Die doel is nie net om skuldiges vas te trek nie, maar ook om ’n grondslag te lê vir die herstel van dienslewering en finansiële stabiliteit in Thabazimbi.
Die VF Plus sal die proses fyn monitor om te verseker dat dit tot wesenlike verandering en geregtigheid vir die gemeenskap lei.


