Die VF Plus dring daarop aan dat die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) volledig verslag doen oor die algehele gesloer met infrastruktuurprojekte in munisipaliteite.
Die minister van Cogta, Velenkosi Hlabisa, het in ’n brief aan die Vrystaatse LUR, Saki Makoena, uitdruklik gewaarsku teen munisipaliteite in die provinsie wat sloer met munisipale infrastruktuurtoelaes en dus die risiko loop om kritieke fondse te verbeur.
Hierdie waarskuwing bevestig die VF Plus se standpunt dat ANC-geleide munisipaliteite in die Vrystaat eenvoudig nie daartoe in staat is om noodsaaklike infrastruktuurprojekte betyds te beplan, bestuur en voltooi nie.
Dit is lank reeds bekend dat baie munisipaliteite nie oor die nodige kundigheid beskik om die projekte in werking te stel nie. Daarby kniehalter die ANC se rasgegronde beleidstukke soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging projekte verder deur die fokus weg te skuif van bekwaamheid na kwotas met rampspoedige gevolge vir dienslewering.
Munisipaliteite waar munisipale infrastruktuurprojekte sloer, is: Letsemeng (25% voltooi), Mohokare (11%), Masilonyana (15,5%), Tokologo (3%), Tswelopele (14%), Dihlabeng (15,6%), Nketoana (8,3%), Maluti-a-Phofung (7,8%), Mantsopa (13,6%) en Mafube (1,8%).
Soveel as 13 vakante senior bestuursposte, insluitend dié van munisipale bestuurders, hoof finansiële beamptes en tegniese bestuurders, verlam projekte verder.
Die tyd het aangebreek dat amptenare en politici wat herhaaldelik versuim om infrastruktuurprojekte te voltooi, tot verantwoording geroep en uiteindelik verwyder word. Dit sal ‘n skande wees as munisipaliteite infrastruktuurfondse verbeur bloot omdat amptenare nie hul werk doen nie.
Die enigste manier om infrastruktuur in die Vrystaat te beskerm en te bou, is om ‘n bevoegde regering aan te stel en die ANC uit die regering te hou.


