Die VF Plus verwelkom die ondersoek van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) na ernstige wanadministrasie in die sake van die Nasionale Loterykommissie en doen ‘n beroep op minister Ebrahim Patel om ná die SOE-ondersoek meer drasties in te gryp en die kommissie onder administrasie te plaas.
Dit volg nadat verskeie klagtes ontvang is oor onwettige uitgawes wat verband hou met openbare geld en eiendom, ongemagtigde uitgawes en transaksies. Die SOE ondersoek beweerde oortredings wat tussen 1 Januarie 2014 en 30 November 2020 plaasgevind het.
Die minister is onlangs deur die parlementêre portefeuljekomitee vir handel, nywerheid en mededinging gestuit in sy poging om ‘n kortlys saam te stel om die beleërde kommissie se voorsitter, prof. Alfred Nevhutanda, te vervang. Die proses om onderhoude met kandidate te voer sal vroeg in 2021 voltooi word.