Die VF Plus het ʼn mosie by die speaker van die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM), me. Eugene Johnson, ingedien vir die desentralisering van die metro se gebied.
Die party het ook ʼn skrywe in dié verband gerig aan die Oos-Kaapse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta).
Die doel met die desentralisering is om dienslewering te verbeter, ekonomiese groei te stimuleer en die lewensgehalte van al die inwoners van die metro se sestig wyksgebiede te verbeter.
Tans is die munisipale gebied van die NMBM só groot dat dit nie meer ʼn regering op voetsoolvlak is nie.
Die huidige regeringstruktuur, wat die stad van Port Elizabeth (Gqeberha) en die dorpe Despatch en Uitenhage (Kariega) saamvoeg onder een sambreel, moet hersien word.
Die samevoeging van dié gebiede het gelei tot die onderbenutting van bestaande munisipale bates soos geboue en kantore in Despatch en Uitenhage.
Die voorgestelde desentraliserende regeringsmodel behels dat elke gebied sy eie munisipaliteit beheer ten einde sy eie sake te bestuur en te bevorder of dat daar ten minste subrade ingestel word wat kan fokus op die behoeftes van inwoners van ʼn spesifieke gebied.
Dit sal lei tot beter dienslewering en instandhouding van kritieke infrastruktuur in veral gebiede soos Uitenhage en Despatch wat tans vanuit Port Elizabeth bestuur word.
Die VF Plus se voorstel is gegrond op die konsep van eenheid in diversiteit wat streef na ʼn beter lewe en geleenthede vir almal.
Dit erken die realiteite en die diverse behoeftes van gemeenskappe.