fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus betrokke by regering van nasionale eenheid (RNE) om Suid-Afrika te help herstel en bou

Die VF Plus het ʼn uitnodiging ontvang om deel te wees van die regering van nasionale eenheid (RNE) en het na deeglike oorweging besluit om betrokke te raak om te help om Suid-Afrika te herstel en te bou.

Die party het die verklaring van voorneme hiertoe onderteken en sal die geleentheid benut om die party se beleid en die mandaat van sy kiesers om Suid-Afrika van ondergang te red, uit te voer en te bevorder.

Die deelname sal insluit om deel te neem aan prosesse soos die nasionale dialoog wat gereël word as deel van die RNE se werksaamhede.

Die party sal dié geleentheid ten volle benut om sy insette te lewer in die vorming van beter beleidsrigtings om Suid-Afrika op ʼn pad van herstel te plaas.

Die party sal sy rol speel om stabiliteit in die land te bewerkstellig en beskou dit as sy plig om daartoe by te dra.

Die party sal sy betrokkenheid by hierdie samewerkingsuitkoms wat uit die verkiesing voortspruit ten volle benut om ʼn sterk rol te speel tot voordeel van die land en ter bevordering van die VF Plus se beleidsrigtings.

Die geleentheid wat die RNE bied sal ook gebruik word om verantwoordbaarheid teenoor die mense van Suid-Afrika te verseker deur die rol van die parlement ten volle te herstel.

Die parlement se rol as instelling wat effektiewe oorsig moet doen oor die uitvoerende gesag en hom aanspreeklik en verantwoordbaar hou sonder om enige enkele party ter wille te wees, moet herstel word.

Suid-Afrika moet so gou moontlik op die pad van ekonomiese herstel geplaas word om werkskepping en dienslewering te bevorder.

President Cyril Ramaphosa het gister met sy inhuldiging die VF Plus se verkiesingslagspreuk geëggo dat Suid-Afrika herstel en opgebou moet word.

Die VF Plus stem daarmee saam en sal ʼn sterk rol speel om te help met die bouproses tot voordeel van elke mens in die land waar niemand bevoordeel of uitgesluit word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.