Die VF Plus het klagte op munisipale en provinsiale vlak ingedien én ook strafregtelike klag by die polisie aanhangig gemaak ná ’n raadsvergadering van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) op 17 Maart 2026 waar die party glo dat stemme doelbewus gemanipuleer is.
Dié vergadering het oor die aansuiweringsbegroting gehandel, maar die amptelike stemuitslag stem nie ooreen met die werklike stemme wat uitgebring is nie.
Daar was 83 raadslede teenwoordig. Van hulle het 42 ten gunste van die begroting gestem, 40 daarteen, en een raadslid het buite stemming gebly.
Die speaker, Sibongile Soxusa, het egter aangekondig dat 46 raadslede ten gunste en 37 teen die aansuiweringsbegroting gestem het.
Omdat ’n eenvoudige meerderheid van 46 stemme nodig was, het hierdie aankondiging die begroting laat slaag. Die VF Plus meen dat die uitslag óf verkeerd getel óf doelbewus gemanipuleer is en dat die goedkeuring onwettig is.
Die party het reeds ’n formele klag ingedien by die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) Jacob Mamabolo, oor die beweerde onreëlmatighede. ’n Klag teen die speaker self is ook ingedien aangesien haar optrede volgens die VF Plus in stryd is met die Munisipale Strukturewet en die gedragskode vir raadslede.
Daarbenewens is ’n mosie in die raad ingedien om die begroting se goedkeuring te hersien en opsy te sit totdat die stemproses se korrektheid bewys is.
Die VF Plus dring aan op ’n onafhanklike ondersoek na die speaker se gedrag en die integriteit van die stemproses.
Die party het ook versoek dat alle verslae, videomateriaal en notules van die vergadering beskikbaar gestel word vir ’n volledige verslag aan die raad.
Benewens hierdie stappe is ’n strafregtelike klag van bedrog by die polisie teen Soxusa aanhangig gemaak. Die DA het ’n soortgelyke klag ingedien.
Die ANC mag nie wegkom met die oortreding van wette en die ondermyning van demokratiese prosesse nie.
Deursigtigheid en verantwoordelikheid is noodsaaklik, sodat inwoners van Emfuleni nie benadeel word weens onreëlmatige besluite nie.


