Die VF Plus het ’n formele klag ingedien teen die speaker van die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit (Modimolle, Mookgophong (Naboomspruit), Vaalwater), me. Sinah. Langa, weens haar onreëlmatige en partydige hantering van die raadsvergadering op 30 April 2026.
Tydens die sitting moes bykans 60 kritieke items afgehandel word, waaronder ’n hoogs omstrede voorstel om ’n luukse voertuig ter waarde van R700 000 vir die hoofsweep aan te koop – ’n item wat nie in die begroting was nie en ten koste van dienslewering sou kom.
Ten spyte daarvan dat die VF Plus en ander raadslede sterk teenkanting uitgespreek het en duidelik in die meerderheid was, het die speaker geweier om ’n verdeling van stemme toe te laat soos die reglement van orde vereis.
Toe raadslede daarop aangedring het dat daar volgens die reëls gestem word, het mev. Langa die besware bloot genoteer en geweier om die raad se demokratiese wil te toets. Hierdie optrede is vererger weens die speaker se selektiewe toepassing van dissiplinêre reëls.
Weens hierdie skending van raadsreëls en die speaker se weiering om ’n demokratiese stemming toe te laat, het die VF Plus-koukus besluit om die vergadering te verlaat.
Die VF Plus sal nie deel wees van ’n proses wat demokratiese beginsels en die belange van inwoners verontagsaam nie. Die gebrek aan ‘n kworum het eindelik tot die verdaging van die sitting gelei.
Die VF Plus het ’n formele klag teen die speaker ingedien by die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Charles Malema, en eis dat sy skriftelik onderneem om die betrokke items ordelik en onpartydig tydens die volgende vergadering te heroorweeg, asook ’n amptelike verskoning aan die raad te rig.
Indien hierdie vereistes nie binne 48 uur nagekom word nie, sal die party verdere stappe oorweeg, insluitend ’n mosie van wantroue en ’n klag by Limpopo se LUR vir plaaslike regering asook by die openbare beskermer (OB)


