Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die Tshwane-metroraad om ’n interne forensiese eenheid te vestig.
Die metro bestee tans gemiddeld R300 000 per ondersoek aan ’n paneel van private prokureurs.
Met sowat 1 500 forensiese ondersoeke wat nog uitstaande is, kan dit die metro ’n verdere R450 miljoen kos.
Baie van die verslae wat hierdie paneel aan die openbare rekeninge-komitee (MPAC) voorlê, is swak en lyk dikwels na blote afskrifte van vorige ondersoeke.
Hierdie uitkontraktering beperk die metro se vermoë om amptenare effektief aanspreeklik te hou en lewer swak waarde vir geld.
Hoewel bestaande wetgewing voorsiening maak vir interne ondersoeke (behalwe in komplekse of sensitiewe gevalle), word byna alle sake steeds uitgekontrakteer.
Die VF Plus stel voor dat ’n interne forensiese eenheid onder die groepoudit- en risiko-afdeling funksioneer. ʼn Onafhanklike keuringspaneel moet personeel keur voordat persone aangestel word.
Só ’n eenheid sal kostes aansienlik verlaag, interne kennis en vaardighede opbou en vinniger resultate lewer. Uitkontraktering moet slegs in uitsonderlike gevalle plaasvind.
Die VF Plus sal aanhou om goeie bestuur, fiskale dissipline en deursigtige aanspreeklikheid te bevorder sodat belastingbetalers uiteindelik waarde vir hul geld kry.


