Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tesourie dreig om toelaes aan Tshwane-metro te staak, bevestig swak bestuur

Die Tshwane-metro se swak bestuur en gebrekkige administrasie hou nou ernstige gevolge in vir die metro ná die nasionale tesourie (NT) gedreig het om alle toelaes aan die metro te staak.

In die laaste vergadering van die Tshwane-metroraad is ‘n verslag ter tafel gelê wat ‘n beleid oor die bekamping van ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes voorstel.

Met die eerste oogopslag lyk hierdie beleid soos ‘n stap in die regte rigting, aangesien die VF Plus altyd bykomende toesig en verantwoordbaarheid verwelkom wanneer dit by die voorsieningskettingproses kom.

Dit is eers wanneer die verslag en sy bylaes in sy geheel gelees word dat die gevaarligte begin flikker.

Die VF Plus merk met kommer op dat hierdie beleid slegs opgestel is in reaksie op ‘n kennisgewing van die NT van sy voorneme om alle toelaebefondsing aan die metro te staak weens gebrekkige nakomingsprosesse.

Nog meer kommerwekkend is dat munisipale amptenare se versuim om korrespondensie van die NT te beantwoord, tot dié verwikkeling aanleiding gegee het.

Indien die NT wel toelaebefondsing weerhou, sal dit ‘n ernstige gevaar skep vir dienslewering in die metro.

Volgens die voorgestelde konsepbegroting vir die 2026-2027-boekjaar word daar staatgemaak op R7.7 miljard van die nasionale regering af om die metro se boeke te laat klop.

Nog ernstiger is dat die korrespondensie en die voorgestelde beleid opgestel is deur die voormalige finansiële hoof, Garath Mnisi, kort voordat hy geskors is hangende ’n ondersoek na beweerde betrokkenheid by die ondermyning van die voorsieningsketting.

Die VF Plus kan nie ’n beleid aanvaar of vertrou wat opgestel is deur iemand wat self onder ernstige verdenking staan nie.

Die party het daarom teen die beleid gestem en eis dat die administrasie hierdie selfveroorsaakte krisis met die nodige erns en dringendheid hanteer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.