Dat die minister van hoër onderwys die studentehulpskema NSFAS gister nogmaals onder administrasie geplaas het, onderstreep die feit dat hierdie skema grondig hersien moet word, of selfs volgens die minister van finansies se mening, afgeskaf moet word.
Die minister van hoër onderwys, mnr. Buti Manamela, het swak korporatiewe regering as rede aangevoer. Sedert die kleinerige beursskema einde 2017 oornag en sonder voorbereiding ‘n multimiljard rand-toelaagskema geword het, het sake nog nooit glad verloop nie.
Oudpresident Jacob Zuma het tydens die ANC se nasionale konferensie in Desember 2017 op die gewelddadige “Fees must fall”-veldtog gereageer deur gratis hoër onderwys vir armes en die werkersklas te beloof. Die departement van hoër onderwys moes inderhaas planne maak om die belofte uit te voer.
Die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) was in daardie stadium ‘n beursskema wat terugbetaalbare beurse toegeken het. Die totale begroting was in 2017 sowat R10 miljard. Sedert Zuma se aankondiging moes dit klasgelde, verblyf en maandelikse toelae aan ‘n snelgroeiende aantal studente betaal.
NSFAS het nie kans gehad om hierop voor te berei nie. Dit was gou duidelik dat inligtingstelsels en beskikbare personeel nie die mas kon opkom nie. Die instansie is in 2018 onder administrasie geplaas, wat uiteindelik tot 2022 geduur het.
Sedertdien het sake by NSFAS egter steeds nie gestabiliseer nie.
Teen hierdie agtergrond het die minister van finansies, mnr. Enoch Godongwana, in Maart vanjaar die mening uitgespreek dat NSFAS eerder afgeskaf moet word.
In daardie stadium was drie finansiële tegnologiemaatskappye wat uitbetalings hanteer onder bespreking. Hierdie maatskappye moes gesofistikeerde stelsels ontwikkel, wat reeds in handelsbanke en universiteite bestaan.
NSFAS bedien tans sowat 1,2 miljoen studente. Dit is nie altyd duidelik of dit in die eerste plek studentefinansiering of maatskaplike toelae is nie. Talle huishoudings is van studente se toelae afhanklik, terwyl die aanvraag daarvoor elke jaar groei.
Suksesvolle studente behoort finansieel in ‘n posisie te wees om hul studieskuld terug te betaal. Die VF Plus het tevore reeds voorgestel dat NSFAS-begunstigdes op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se lopende betalingstelsel geplaas word. Dit sal beteken dat hulle, sodra hulle geld verdien, hul studieskuld kan terugbetaal.
Die onvermoë van NSFAS om in enige stadium sedert 2018 goeie bestuur te beoefen, maak ‘n grondige heroorweging hiervan noodsaaklik. Dit bewys weereens dat korporatiewe onvermoë nie opgelos kan word deur geld daarop te gooi nie.
Die VF Plus voeg sy stem by dié wat vra dat hierdie besteding grondig heroorweeg word. Die administratiewe plig moet aan universiteite en handelsbanke oorgedra word, met die departement van hoër onderwys bloot as ‘n deurgangskanaal. Terwyl dit uiters positief is om almal in staat stel om te studeer, is daar nie so iets soos gratis hoër onderwys nie – iemand betaal daarvoor en begunstigdes behoort by te dra.


