fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus dien klag in by MRK oor lugbesoedeling by Medupi-kragstasie

Na vele klagtes van inwoners van die Lephalale-plaaslike munisipaliteit (Ellisras) oor voorkombare lugbesoedeling by die Medupi-kragsentrale, het die VF Plus ‘n klag by die menseregtekommissie (MRK) hieroor ingedien.

Die groot oorsaak van die lugbesoedeling is die wegdoening van verbrande steenkool se as. Dit word nie gedoen nie en lê klaarblyklik op 'n groot hoop vanwaar dit rondwaai.

Die as word nie meer per vervoerband na die Matimba-ashoop vervoer nie, maar word langs die kragstasie gestort.

Die geringste briesie waai die fyn as oor die stortingsterrein, dorp en omgewing.

Dit is duidelik dat Eskom nie dieselfde rehabilitasieprogram volg soos wat met die Matimba-ashoop gedoen is nie.

Die wyse waarop die as gestort word, is nie volgens redelike omgewingsregulasies nie en kan lei tot verhoogde gesondheidsrisiko’s vir inwoners.

Daar is duidelik ‘n laksheid by Eskom rakende lugbesoedeling en al sukkel Eskom om die ligte aan te hou, moet hy gedwing word om die moontlike te doen om lugbesoedeling te verminder.

Die VF Plus het die MRK versoek om die lugbesoedeling dringend te ondersoek en Eskom te dwing om die nodige maatreëls in plek te stel om dit te verminder.

Die Handves van Regte bepaal dat elke persoon die reg het om in ‘n omgewing te woon en te werk wat nie skadelik vir sy of haar gesondheid en welsyn is nie.

Besoedeling en ekologiese agteruitgang moet ook voorkom word.

Die VF Plus sal die vordering van die saak monitor en sal optree in die beste belang van inwoners.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.