fbpx
Vryheidsfront Plus

Inwoners ontevrede oor voorgestelde tariefverhogings vir Germiston

Inwoners van Germiston is warm om die kraag oor die moontlike skerp styging in tariewe van die Ekurhuleni-metro.

Die voorgestelde tariefverhogings soos vervat in die geïntegreerde-ontwikkelingsplan (GOP) en begroting van die metro, is die afgelope naweek aan inwoners bekend gemaak op ‘n vergadering van die The People’s Voice-organisasie.

The People’s Voice is ‘n geregistreerde nieregeringsorganisasie (NRO) wat help om gras te sny, parke skoon te maak en maatskaplike hulp aan behoeftiges te verleen.

Dié organisasie het die VF Plus genooi om die geïntegreerde ontwikkelingspan te verduidelik.

Inwoners het tydens die vergadering aangedui dat hulle ook bekommerd is oor die kragprobleem, watertekorte en slaggate.

Die VF Plus het inwoners aangemoedig om hul kommentaar en voorstelle oor die GOP aan die metro te stuur. Die spertyd is 26 April.

Volgens die GOP sal huishoudings met ‘n eiendomswaarde van R500 000, ‘n elektrisiteitsverbruik van 500kWh en 30kl waterverbruik, in die nuwe 2023/24-finansiële jaar R2827.54 betaal. Die bedrag beloop tans R2520.42.

‘n Huishouding met ‘n eiendomswaarde van R700 000, elektrisiteitverbruik van 1 000kWh en 30kl waterverbruik, sal R5486.14 betaal. ‘n Soortgelyke huishouding betaal nou R4889.50.

Voorgestelde projekte in die GOP wat vir Germiston beplan word, is die rehabilitasie van die Laerskool Leondale, ‘n parallelmeduimskool, asook die opgradering van die Hoërskool Elsburg se dak.

Die VF Plus neem kennis van opgraderingsprogramme aan twee skole in Germiston en sal ‘n wakende oog oor die uitvoering van die planne hou.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.